Hoërskool Hartbeespoort in die 20ste eeu

March 31, 2011 at 1:30 pm 2 comments

Hoërskool Hartbeespoort

in die twintigste eeu

(1968) Hoërskool Hartbeespoort (Wapen in gebruik sedert 1981)

Hoër Huishoudskool Martha Human (1949) (Wapen in gebruik sedert 1949)

 

Huishoudskool (later Hoër Huishoudskool) Hartebeestpoort (1927) (Wapen in gebruik sedert 1934)

 

 

 

 

Wordingsjare ­- 1927-1948

Van Hartebeestpoort Huishoudskool tot Hoër Huishoudskool Hartebeestpoort

Die geskiedenis van die Hoërskool Hartbeespoort gaan eintlik verder terug as die stigting van die Hartebeestpoort Huishoudskool op 14 Maart 1927.  Na die Eerste Wêreldoorlog, en beswaarlik twee dekades na die verwoesting van die Anglo Boere-oorlog, het groot werkloosheid en armoede oor die hele land geheers.  Die bou van Hartebeestpoortdam (soos die naam destyds gespel is) het werksmense van oor die hele land gelok. Baie van hulle was gesinsmense (getroude mans is meer betaal as ongetroudes) en skoling vir die kinders van die mense wat aan die dam en kanale gewerk het, is aanvanklik in ‘n tentskool in die poort aangebied.

Namate die projek voltooiing genader het en baie van die eertydse dam- en kanaalbouers hulle permanent op die besproeiingsgrond gevestig het, het die behoefte aan ‘n behoorlike skool vir opleiding ná  Standerd V (Graad VII) groter geword.  Dit was so ver kinders kon leer in die s.g. irrigasieskole waarvan daar later ‘n paar langs die kanale was.

Beroepsonderwys, wat tot 1925 deur die onderskeie provinsies bestuur is, is deur die Unie Departement van Onderwys oorgeneem. Daar was verskeie beroepskole in Pretoria en Johannesburg maar die enigste beroepskool op die platteland was op Potchefstroom.  ‘n Beroepskool by die dam, wat die breinkind was van ‘n welsynwerkster, mej M. Gutter en die destydse Superintendent van Nedersettings, ds Van der Horst,  sou dus in ‘n groot mate ‘n eksperiment wees, maar dit het die geesdriftige ondersteuning geniet van mense soos die destydse sekretaris van Unie Onderwys, mnr George Hofmyer, en sy opvolger, dr S. F. N. Gie.  Ds Van der Horst was bekommerd oor die dogters van die nedersetters wat nie die geleentheid gehad het om na hulle laerskoolopleiding verder te leer nie.  Die idee was dat jong meisies wat tot ‘n groot mate “ledig op die plotte sit”, veel kon baat by huishoudkundige opleiding.  Heelwat personeel van die destydse Departement van Besproeiing is na die voltooiing van die damwal onttrek en die geboue wat hulle beset het, kon vir die beplande skool gebruik word.

Die skool is onderskei van die destydse “industrieskole” (nywerheidskole) soos dié een op Standerton waarheen kinders met gedragsprobleme gestuur is.  Hierdie skool sou een wees waarheen kinders vrywillig sou kom en sou as model dien vir ander beroepsgerigte skole.  Daar was egter bedenkinge en die destydse inspekteur van onderwys, dr G. W. Eybers, het dit só verwoord:

“Die gedagte was in daardie dae gewaagd.  Dit sou ‘n nuwe soort skool wees met ‘n nuwe program en ‘n nuwe uitkyk.  En dan, so ver van die naaste dorp! Daar in die betreklike eensaamheid! Sou die ouers hulle dogters daarheen stuur? Die meeste mense word deur ‘n gevestigde inrigting van naam in ‘n stad of altans in ‘n groot dorp aangetrek. Hoe sou dit daar agter die groot damwal gaan?”

Die ligging van skool het vir baie jare ‘n probleem vir baie mense gebly.  Jare later, in 1948 met die “mondigwording” van die skool, het die voorsitter van skool se adviserende raad, mnr J.E. van Zijl, steeds die versugting uitgespreek dat die skool spoedig nuwe huisvesting sou vind en “wel op ‘n plek waar die ‘mondige’ hom ten volle kan uitleef.” Hy het gesê dit was nooit die departement se bedoeling dat die afgeleë terrein met sy ondoeltreffende geboue die permanente tuiste van die skool sou bly nie. Persoonlik was hy ‘n sterk voorstander daarvan dat beroepskole slegs in groot dorpe of stede gevestig word.

Ondoeltreffend was die geboue inderdaad en toe die skool gestig is en, volgens die eerste hoof, (toe) mej Martha Human, “woes en ledig” en vuil en vervalle.  Sy skryf in die skool se gedenkalbum van 1948 sy was “eers huiwerig … om die saak aan te pak (maar dat ek) ……troubreuk sou pleeg teenoor die dogters van my volk indien ek nie dadelik die bul by die horings sou pak nie.   So het die skool dan op die middag van 14 Maart 1927 tot stand gekom.”

Die eerste vyf dogters het hulle op 15 Maart by die skool aangemeld, maar van skoolgaan was daar geen sprake nie.  Werksmense was nog besig om die geboue op te knap en die dogters en personeel moes maar self inspring en help met die opruiming.  Die personeel het bestaan uit mej. Human en haar twee assistente, mejj Nieuwenhuis en Hamman.  Die eerste bediende op die perseel is eers ses maande later aangestel.

Die skool het aanvanklik net twee jaar opleiding aangebied (die Nasionale Sertifikaat in Huisvroukunde) en het bekend gestaan as die Hartebeestpoort Huishoudskool. Leerlinge wat na wense presteer het, kon gekeur word vir die gevorderde een-jaar kursus – die Nasionale Senior Sertifikaat in Huisvroukunde.   Dit is eers later dat skoolopleiding tot matriek aangebied is en die skool se naam verander is na die Hoër Huishoudskool Hartebeestpoort.

Maar ten spyte van die geesdrif waarmee die personeel en leerlinge hulle taak aangepak het, was die groei teleurstellend. Mej Human het daaraan toegeskryf dat die nedersetters vir wie die skool bedoel was nie wou hê dat hulle dogters die soort ‘vuilwerk’ moes doen nie.  Ds Van der Horst het die nedersetters tot ander insigte probeer bring, maar die situasie het eers verbeter toe die skool vir alle dogters van veral die Transvaalse platteland oopgestel is .  Na twee jaar het die getal skoliere op 70 gestaan.

Die personeelomset was redelik hoog weens die departement se destydse beleid om onderwyseresse van diens te onthef sodra hulle trou.  Die afgesonderdheid van die skool het dit ook nie makliker gemaak nie.  Die skool was besonder gelukkig dat mej Martha Human die pos van prinsipaal vir 18 jaar beklee het voordat sy in 1945 in die huwelik getree en mev Pienaar geword het.

Sowat ‘n jaar na die stigting van die huishoudskool is ‘n landbouskool, wat later jare (vanaf 1978) bekend sou staan as die Hoërskool Wagpos, vyf kilometer anderkant Brits gestig.  Die skool het baie minder probleme as die huishoudskool ondervind om leerlinge te trek en het in die eerste jaar van sy bestaan reeds 30 leerlinge gehad. Daar was ‘n hegte band tussen die twee skole wat sou voortbestaan totdat albei meer as vyftig jaar later in gewone gemengde hoërskole omskep sou word – Hartbeespoort in 1978 en Wagpos in 1993.

Een van die hindernisse wat die nuwe huishoudskool moes oorkom was die stigma wat in die eerste jare van sy bestaan aan die skool gekleef het – die opvatting dat die skool net bedoel was vir arm en intellektueel minder begaafde kinders. Die skool se antwoord daarop, aldus een van die eerste leerlinge, mej L Fourie wat later as klerk by die skool aangestel is, was een woord: Prestasie. Daar is in 1929 begin met jaarlikse uitstallings waar die werk van die dogters ten toon gestel is.  Maar ook op kulturele gebied het die leerlinge van die skool hulle merk gemaak. In 1938, toe die skool sowat 130 leerlinge gehad het, is ‘n vaste koor van 60 lede gekies wat met net twee maande voorbereiding met die louere by die Afrikaanse kunswedstryd in Pretoria weggestap het.  Daarna het die koor gereeld die stadskole die loef afgesteek.  Op 16 Desember 1938 het die koor, wat uitgebrei is na 100 lede, as deel van ‘n massakoor van 300 skoliere opgetree by die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument  in Pretoria.

Die leerlinge het ook op ander terreine hulle merk gemaak en die aansien van die skool het so gestyg dat daar naderhand meer aansoeke ontvang is as waarvoor daar plek was.

Dit was ‘n groot oomblik vir die skool toe sy saal, die Humansaal,  in 1933 ingewy is.  Die saal is omskep uit een van die bestaande huise waarvan al die binnemure uitgeslaan is en wat die personeel en dogters self versier het.  Die stoele wat in die saal gebruik is, was tweedehandse bioskoopstoele wat van African Theatres in Johannesburg gekoop is.  In 1934 het die skool sy kleure gekry, in 1936 is die skoollied gekomponeer en in 1948 kry die skool sy eie skoolbus.

Die skoollied is gekomponeer deur  Hilda Saaiman-de Groof en is gegrond op wat op daardie stadium die skool se leuse was: Wil Tel

  1. Hartebeespoort kom wees vrolik,
    Dis ‘n voorreg om te werk en speel,
    Tussen berge, water, bome,
    Deur die watervalgedruis, gestreel,
    Schoemansville, Magaliesberge,
    Reuse dam met wal en Kosmos by,
    Al’s omring ons Huishoudskool hier.
    Waar ons so gelukkig saam kan bly,
    Ons streef na ideaal —
    ”WilTel,” die leuse is ons ideaal,
    As ons ons aandag by ons werk bepaal,
    Bekroon sukses ons poging elk kwartaal.
    Op die sportsveld, toon ons spanne geen gena,
    Die Hartebeeshuishoudskool —
    Elke skild en beker wil ons huistoe dra,
    Na die Hartebees’ Huishoudskool
  2. Ons as moeders van die toekoms,
    Moet ‘n nasie help opbou:
    Netjies, sterk, verstandig, lief vir werk en handig,
    Eerlik aan ons plig getrou.
    Kookkuns, naaldwerk, huisorganisasie,
    Dis wat ons nou leer, werk van nut en eer,
    Ons weerspieël ons ouers, huis en skool,
    En wil hul deur ons werk, met eer beloon,
    Wil Tel!” inspireer ons skool,
    mag ons deur dade – nie met woorde toon.
    Ons wil graag help bydra tot die skool se faam,
    Tradisie help opbou:— Ons is trots op
    Hartbeeshuishoudskool se naam,
    Wil Tel ” sal ons eer behou.

‘n Hoogtepunt was toe die skool in 1944 ‘n swembad gekry het, maar die jaar daarna, in 1945 is mej Human getroud en het sy die skool verlaat. Sy is opgevolg deur mej C. Van Rooy.

Toe die skool in 1948 sy mondigwording gevier het, het hy 137 leerlinge en ‘n personeel van 21 gehad.

Van Huishoudskool tot Hoërskool:  1948 – 1968

In 1949, kort na die viering van die skool se mondigwording, is die naam verander na die Hoër Huishoudskool Martha Human, ter ere van die skool se eerste prinsipaal. Een van die groot bedenkinge wat die onderwysowerhede in die jare na die Tweede Wêreldoorlog oor die skool gehad het, was die betreklike afsondering waarin die skool moes funksioneer. Op ‘n sosiale vlak was daar heelwat kontak tussen die skool en die landbouskool en die seuns is gereeld na die dam aangery of die dogters na die landbouskool vir volkspele of ander sosiale geleenthede. Maar die dogters was almal kosgangers wie se tuisgemeenskappe elders was.

Mej van Rooy het aan die einde van 1952 die skool verlaat en is sy opgevolg deur mej M Betz wat tot April 1954 by die skool was.  Mej S L van Heerden was ná haar tot Mei 1959 die hoof waarna mev D M Wessels tot Desember 1959 waargeneem het. Mej H Pretorius was van 1960 tot 1965 die hoof waarna mej M Mostert tot 1970 die leisels oorgeneem het. Mej M Loubser was van 1971 tot 1989 die hoof voordat die skool sy eerste permanente manlike prinsipaal gekry het in die persoon van mnr  Victor Wentzel.]

Die skool se afsondering was die een van die faktore wat uitbreiding in die wiele gery het. Die ander was die fasiliteite op die terrein self.  Die beheerraad en die departement was lank onseker of die dam die geskikste ligging vir die skool is.  Daar was ‘n sterk gevoel – verwoord deur die destydse voorsitter van die adviserende raad van die skool  – dat alle beroepskole slegs in groot stede en dorpe gevestig behoort te wees.

As gevolg van die onsekerheid was daar geen uitbreiding van die skool se geriewe nie en was die leerlingtal op die ou terrein nooit meer as 150 nie. Nogtans het die skool voortgegaan om op kulturele en sportgebied te presteer totdat die kwessie van sy toekomstige plasing gefinaliseer is. Dié besluit is uiteindelik in die middel van die jare sestig geneem.  Omstreeks dieselfde tyd is besluit dat die skool voortaan die Nasionale Senior Sertifikaat sou aanbied, wat beteken het dat nie meer ‘n suiwer huishoudskool sou wees nie en dat ‘n groter verskeidenheid vakke aangebied word. Handelsvakke soos tik en handel is ook aangebied.

In 1967 is die nuwe “ultra-moderne” skool- en koshuise aan die hang van die Magaliesberg by Schoemansville voltooi.  Daar is voorsiening gemaak vir klas- en koshuisgeriewe vir 200 dogters en die projek het sowat R800 000 gekos. Die personeel en leerlinge het ongeduldig uitgesien na die dag wanneer die groot trek sou plaasvind, want as gevolg van die komende verskuiwing is net die noodsaaklikste instandhouding op die ou terrein gedoen. Die verskuiwing sou aanvanklik in Maart 1967 plaasvind maar is uitgestel na Augustus. Juis as gevolg van die vervalle toestand van die ou skool en ‘n bykanse tragedie is dié datum egter weer drasties vervroeg.

Groei en ontwikkeling  – 1968 tot eeuwisseling

Die amperse tragedie was toe ‘n leerling van die skool, Martha Voordewind, ‘n elektriese skok opgedoen het toe sy aan die ankerdraad van ‘n elektriese paal geraak het.  Sy het die skok oorleef, hoewel sy mediese behandeling moes kry, maar die besef dat die ou geboue nou lewensgevaarlik begin raak, het die owerheid genoop om die hele projek te versnel.  Op ‘n Vrydagmiddag in Mei 1967 is die personeel en leerlinge in kennis gestel dat die trekkery  nog sommer daardie naweek sou plaasvind. Na 40 jaar en twee maande en baie bloed en sweet het die skool uiteindelik ‘n nuwe tuiste gekry. Die amptelike opening van die nuwe skool op 29 Maart 1968 is waargeneem deur mev Betsie Verwoerd, weduwee van die voormalige premier, dr Hendrik Verwoerd.

Tesame met die verskuiwing het die skool ook ‘n nuwe leuse  en ‘n nuwe skoollied gekry. Die nuwe leuse, Versorg en Besiel, is ook vervat in die nuwe skoollied:

Hoog teen die Magalies se berg gebou
leun ons skool teen die bloutes aan.
Rotsvaste vesting van kennis en trou
vir geslagte wat kom en gaan.
Aan onsself en ons skool getrou
met die Woord van God in die hand,
sal ons werk en stry, sal ons werk en bou
aan ‘n toekoms in hierdie mooi land.
Versorg en besiel, deur ons skool gelei,
sal ons vas op koers kan bly,
sal ons vas op koers kan bly.

Hoog die ideaal waarna elkeen mik,
gedra deur die drang so sterk.
Vas in die wil van die Here beskik,
is oorwinning vir elkeen wat werk.
Aan onsself en ons skool getrou
met die Woord van God in die hand,
sal ons werk en stry, sal ons werk en bou
aan ‘n toekoms in hierdie mooi land.
Versorg en besiel, deur ons skool gelei,
sal ons vas op koers kan bly,
sal ons vas op koers kan bly.

Op kulturele gebied het die “nuwe” Martha Human skool selfs meer aktief geraak en gereelde uitstallings van die leerlinge se werk in Pretoria en plaaslik gehou.  Tog was die skool in ‘n groot mate steeds ‘n “eiland” aangesien die meeste skoliere kosgangers van elders was. Daar was steeds noue bande met die landbouskool, wie se leerlinge feitlike weekliks per bus besoek afgelê het, of deur die dogters besoek is vir volkspele, debatvoering of konserte.  Op sportgebied het die skool se leerlinge deelgeneem aan byeenkomste in Pretoria en Rustenburg, waarheen ondersteuners soms per trein gereis het.

In die tweede kwartaal van die 1970 is daar begin met die bou van die sportgronde op die skoolterrein.  Tot op daardie stadium is van die skoliere na die terrein van die ou skool geneem vir baansportoefening.

In April 1971 is die stigter van die skool, mev Martha Pienaar (mej Human) oorlede en leerlinge en personeel het haar begrafnis op 3 Mei 1971 in die NG Kerk Capital Park Oos in Pretoria bygewoon.

En van die hoogtepunte vir die dogters in 1971 was toe Hartbeespoortdam se nuwe kruinsluise op 31 Augustus in gebruik geneem is en hulle ‘n erewag moes vorm vir die destydse minister van waterwese, mnr S P Botha, wat by die geleentheid opgetree het.

Die destydse Transvaalse Provinsiale Onderwysdepartement het in 1970 die beheer van die skool by die nasionale Departement van Onderwys oorgeneem en van toe af was daar sprake van die omskepping van die Martha Human in ‘n “volwaardige” hoërskool.  Toe die gedifferensieerde onderwysstelsel in 1972 in die destydse Transvaal ingevoer is, het Martha Human ‘n gewone akademiese hoërskool geword.  Namate die dorpsgebiede om die dam groei en ontwikkel, veral weens die uitbreiding van die kernenergieprogram by Pelindaba en die nywerhede by Brits, raak die behoefte aan ‘n hoërskool vir sowel seuns as dogters van die gemeenskap al hoe groter. Daar was van die begin af ‘n nou band tussen die skool en die onderskeie kerke in die omgewing, maar in Januarie 1973 word dit nog nouer toe die NG Gemeente Hartbeespoort afstig van die NG Gemeente Wesmoot en daar gereël word om die gemeente se eredienste in die skoolsaal te hou tot tyd en wyl hulle ‘n eie kerk kan bou.

Die eerste leerlinge ingevolge die gedifferensieerde stelsel het aan die einde van die 1975 matriek in gewone akademiese vakke geskryf nadat die naam van die Hoër Huishoudskool Martha Human in  April 1975 amptelik verander is na die Hoërskool Hartbeespoort. Daar is toe beplan vir aanbouings sodat die skool 750 leerlinge kan huisves en daar is gekyk na busroetes sodat busse leerlinge na Hartbeespoort sou vervoer in plaas van na Brits, Tuine en Elandspoort.  Daar was op daardie stadium reeds druk beplan dat seuns in die skool toegelaat sou word sodra die nuwe aanbouings voltooi is  – ‘n verwikkeling wat volgens ‘n inskrywing in die skooljoernaal van Mei 1975 deur verskeie ouers met wantroue en aggressie bejeën is.

Die naambord met die nuwe naam van die skool is op 5 Augustus 1975 amptelik onthul, maar die skoolwapen was nog steeds simbolies van ‘n huishoudskool met die twee borde en ‘n madeliefie.  Dié is in 1981 vervang deur die skoolwapen met die hartbeeskop en twee kleiner madeliefies.

As Hoër Huishoudskool Martha Human (voordat die naam verander is) het die skool sy eerste atletiekkampioen in Januarie 1975 opgelewer toe Martie Cilliers die verspringkampioenskap vir dogters onder 14 gewen het.  In Mei 1975 neem die skool ook vir die eerste keer deel aan ‘n hokkiewedstryd en klop die Hoërskool Eldoraigne 2-1. In daardie jaar het Martha Human sy regmatige plek onder die voorste skole van die bevestig toe hy sy eerste vriendskaplike atletiekbyeenkoms gewen het.  Dit was ook ‘n jaar wat gekenmerk is deur swaar reënval wat die atletiek- en sportbane sodanig beskadig het dat die interhuis-atletiekbyeenkoms na die landbouskool se bane verskuif moes word.

Die Hoërskool Hartbeespoort het daardie jaar ook vyf leerlinge opgelewer wat Noord-Transvaalse kleure in sport verwerf het.  Hulle was Jeanny Theron (netbal), L de Wet (judo), E Burger en N Oosthuizen (skole-atletiek) en Martie Cilliers (junior-atletiek). Die eerste netbalspan het in daardie jaar ook net een wedstryd verloor en wel teen Brits.  Altesaam 16 leerlinge het die Noord-Transvaalse Interbond-span gehaal en drie was Noord-Transvaalse kampioene.  Hulle was Martie Cilliers, N Oosthuizen en E Burger.  1975 was ook die eerste jaar dat daar nie volgens tradisie saam met die Hoër Landbouskool interhuis-atletiek gehou is nie. Van 1977 af het die skool drie jaar agtereenvolgens die sangbeker op die interskole-atletiekbyeenkoms verower.

Korfbal was die eerste spansport waarin daar by die huishoudskool meegeding is. Dit was ‘n gewilde  sportsoort waarin daar groot hoogtes bereik is.  In 1953 het Martha Human sowel die Unie- as die Hoërskool-skild verower en later in die vyftigerjare al het van die dogters die Noord-Transvaalse skole korfbalspan gehaal.  Korfbal is egter in die sewentigerjare deur netbal vervang.

In 1976 word daar begin met die bouwerk vir die uitbreiding van die skoolgeboue om gereed te maak vir die eerste inname van seuns.   Die hele 1977 word daar gebou en gewerk en teen hierdie tyd is daar soveel geesdrif vir die nuwe verwikkeling dat die dogters selfs help om gras op die rugbyveld te plant sodat dit gereed kan wees vir die nuwe bedeling.

Intussen presteer die dogters steeds op sportgebied en blink veral uit op die gebied van tennis en netbal.  Die tennisspanne het in die meeste van hulle wedstryde skoonskip gemaak en van die netbalspelers is vier vir die Noord-Transvaalse skolespan-proewe gekies.

Die uitbreidings en verbeteringe by die skool in 1977, die skool se jubileumjaar, het met groot planne gepaard gegaan. Die destydse Departement van Sport en Ontspanning het voorsien dat die skool se sentrale ligging ten opsigte van ander Transvaalse skole dit besonder geskik sou maak vir die opleiding van atletiekafrigters gedurende vakansies en ook vir groot atletiekbyeenkomste. Die pawiljoene sou sitplek bied vir 15 000 mense en al die bane sou volgens internasionale standaarde uitgelê word.  Daar is voorsien dat die skool talle kosgangers sou lok en die uitbreiding van die koshuise sou voorsiening maak vir 700 tot 1 000 seuns en dogters.

Toe die skool op 9 Januarie 1978 open, word die eerste seuns by Hoërskool Hartbeespoort verwelkom. Na die tiende skooldag is daar 322 leerlinge waarvan 71 seuns is.  Die landbouskool, met wie Hartbeespoort sedert sy ontstaan noue bande gehad het,  het in daardie jaar sy goue jubileum gevier en sy naam verander na Hoërskool Wagpos. Hoërskool Hartbeespoort het nou sy eie seuns gehad het en dit was nie meer nodig so swaar op Wagpos te leun vir volkspele en ander kultuuraktiwiteite nie. Nietemin het sewe Voortrekkerdogters in Okt 1979 die 30 km van Hartbeespoort na Wagpos gestap om sommer vir die lekker daarvan te gaan dagsê.

Die eerste Magaliesbergwedloop waaraan sowat 500 atlete deelneem, word in September 1979 by die skool aangebied. Die geleentheid, wat ‘n jaarlikse instelling sou word, is gekenmerk deur vertonings deur hangvlieërs en warmlugballonne. ‘n Leerling van die skool, Charlie Minnaar, wie se pa, Charles, die veterane-afdeling gewen het en sy ma, Rita, die vroue-afdeling, het die junior afdeling gewen.  Hy en albei sy ouers het Noord-Transvaalse kleure vir landloop verwerf.

In Januarie 1980 was die skool vir die eerste keer gasheer van ‘n buitelandse uitruilstudent – Loanne Kealey van Queensland in Australië.  Haar verblyf van ‘n jaar is deur die Rotariërbeweging gereël.

Die skool se nuustoneel is in 1980 oorheers deur die paraplegiese atleet, Martie Jacobs, wat in daardie jaar Springbokkleure verwerf en nie minder nie as drie goue medaljes verower het. Sy het ook die wêreldrekord vir parapleë in hoogspring oortref en is gekies om in Junie 1980 aan die Wêreld Paraplegiese Spele in Den Haag in Nederland deel te neem. ‘n TV-program in die reeks, Dis my geheim, is oor haar lewe gemaak. Sy het in die daaropvolgende jaar op haar rekords verbeter en die Staatspresident se Sportmerietetoekenning verwerf. Twee jaar later, toe sy reeds die skool verlaat het en ‘n student aan die Normaalkollege, Pretoria, was, is sy genooi om aan ‘n byeenkoms in die destydse Wes-Duitsland deel te neem en het  skoliere van haar ou skool geld ingesamel om haar in staat te stel om te gaan.

In Augustus 1981 het die skool “’n klein stukkie geskiedenis gemaak” deur die eerste operette by die skool aan te bied.  Die opvoering, “Ridders van die Swartwoud”, wat in die middeleeue afspeel, het groot byval gevind.

In 1983 het Charlie Martig van Switserland as tweede Rotariër-uitruilstudent hom by die skool aangesluit.  Hoewel hy nog net ‘n paar maande in die land was, het hy almal verbaas met sy vaardigheid in Afrikaans.  Dit is ook die jaar waarin die skool ‘n resepteboek uitgegee het om geld in te samel vir ‘n nuwe bussie.  Op sportgebied is sagtebal as nuwe sportsoort by die skool aangebied.

Die pawiljoen waarop die skool so trots was en met groot moeite en betrokkenheid van die gemeenskap in 1979 opgerig het, word in Februarie 1983 deur ‘n fratswind afgewaai. Die skool moes maar self ‘n plan maak om die skade van sowat R20 000 te herstel.  Die dak is afgeruk net ‘n paar dae voor ‘n byeenkoms waaraan 14 skole sou deelneem.

In die matriek-eindeksamen van 1983 word Imme Holm die eerste skolier in die land wat nege onderskeidings in matriek behaal en daarmee plaas sy die Hoërskool Hartbeespoort onteenseglik in die geledere van die top skole in die land. Omdat die departement van onderwys nie wou toelaat dat kandidate in meer as sewe vakke per sitting eksamen aflê nie, het sy die oorblywende twee vakke met die hereksamen geskryf.  Daardie jaar het die skool 556 leerlinge gehad, waarvan 233 seuns was, met ‘n matriekklas van 61.

In 1984 neem die skool deel aan ‘n toneelfees by die Hoërskool Langenhoven in Pretoria waar die kinders “Die Rooiduiwel se As” opvoer en die skoolkoor neem deel aan die Administrateursbeker-kompetisie in die Musaion.   Kobus Minnaar en Debbie Skinner wen goue medaljes by die Noord-Transvaalse atletiekkampioenskappe in die 1 500 hindernis en hoogspring. Drie broers, Hannes, Flippie en Frikkie Steyn en hulle pa, Flip kry Noord-Transvaalse kleure in landloop. Nuwe atletiekvelde word aangelê en daar word geboor vir water.

Niels Holm, Imme se jonger broer, kry sewe onderskeidings in matriek. Hy het, netsoos Imme, nege vakke geskryf – ook eers sewe met die hoofeksamen en toe twee met die hereksamen.

Die daaropvolgende jaar, 1985, styg die skool se leerlingtal die eerste keer tot oor die 600. Tobias Beyers met sy goudsmidswerk wen Beeld en die Johannesburgse Sakekamers se Jong Winsmaker van die Jaar- kompetisie en Henriëtte Steenkamp wen die Pretoriase Junior Sakekamer se Jeugjaar-kompetisie.  Tobias het ook aan die einde van daardie jaar vyf onderskeidings in matriek gekry.

Maria Bodenstein se naam word opgeneem in Unisa se ererol vir musiek en Ilse Beukes se werk word gekeur vir die Wêreldkinderkuns-uitstalling in Taiwan.

1985 was ook die jaar waarin Olivia Scroobie aangewys is as Huisgenoot se Mej Tiener en ‘n motor wen wat sy nie self kon bestuur nie omdat sy toe net 16 was.

Faye Mc Pherson, ‘n Australiese uitruilstudent, skryf haar in 1986 by die skool in en word later daardie jaar gekies vir die Noord-Transvaalse skolesagtebalspan te midde van toenemende gewildheid van sagtebal as sportsoort vir sowel seuns as dogters.  Dit is ook die jaar van Halley se komeet en feitlik al die skool se leerlinge kry die geleentheid om die planetarium in Johannesburg te besoek om meer van die komeet te leer.

Hoërskool Hartbeespoort vier in 1987 sy sestigste bestaansjaar en die geleentheid word op luisterryke wyse gevier met ‘n sportdag waartydens duisende ballonne vrygelaat word.  Adriaan Coetzee, ‘n matriekleerling,  wen op die Afrikaanse kunswedstryd in Pretoria die vyfde agtereenvolgende jaar die John Roos-musiektrofee in die instrumentale afdeling vir seniors.  Die jaar daarná wen hy as eerstejaarstudent die FAK studiebeurs – die eerste keer dat dit aan ‘n eerstejaarstudent toegeken word.

‘n Std 6-leerling van die skool,  Marius Els, skop stof in die oë van al die volwasse lede van die Brits gholfklub  toe hy aangewys word as die senior klubkampioen.  Hy is ook later die jaar aangewys as die beste junior gholfspeler in die land en wen die Junior Meesterstrofee.   ‘n Personeellid, mnr Percy Barthram word aangewys as die afrigter van die Noord-Transvaalse skolerugbyspan.

Dit is in 1988 die 150 jarige herdenking van die Groot Trek en die skool vier dit met volkspele en ‘n boeresportbyeenkoms op 20 Augustus waaraan al die skole van die omgewing deelneem.  Later die jaar neem van die leerlinge ook deel aan ‘n massakooruitvoering op Loftus Versfeld.

150 leerlinge skryf matriek en Theresa de Wet behaal sewe onderskeidings en Lorette Grobler ses. Die matrikulante het daardie jaar altesaam 50 onderskeidings behaal.

Die eerste rugbyspeler van die skool wat vir die Cravenweek A-span gekies word, is André Cloete wat in 1989 hierdie eer te beurt val.  Jacques Badenhorst vertrek na die VSA as ‘n Rotariër-uitruilstudent.

1989 was ook die einde van ‘n era vir Hoërskool Hartbeespoort.   In Junie van daardie jaar neem hy afskeid van mej Madelene Loubser wat sedert 1971 die skoolhoof was. Die afskeid neem die vorm aan van ‘n kadetparade waaraan die dogterspeloton ook deelneem, met gimnastiekuitvoerings en orkesoptredes. Mej Loubser was sedert 1967 by die skool toe dit nog ‘n huishoudskool vir meisies was.   Die omskepping van die huishoudskool in ‘n gemengde skool het meegebring dat sy die eerste vroulike hoof van ‘n gemengde skool in die destydse Transvaal was. Mnr Jan du Plessis het die res van die jaar waargeneem as hoof totdat mnr Victor Wentzel in 1990 aangestel is.

Rekenaaropleiding by die skool het daardie jaar begin met ‘n enkele rekenaar wat deur die firma ATC geskenk is.  Kort daarna verskaf die departement ‘n volledige rekenaar vir administratiewe gebruik en aan die einde van daardie termyn ontvang leerlinge vir die eerste keer gerekenariseerde puntestate.  Die Rotariërs van Brits skenk ook R4 500 aan die skool om nog rekenaars te koop.

Dit is die jaar waarin die minister van onderwys drie nuwe modelle vir die onderwys in Suid-Afrika voorstel wat aldrie deur die bestuursraad en die ouervereniging van die skool verwerp word.  Op daardie stadium was die skoolfonds R250 per jaar per gesin.

Verskeie leerlinge word gekies vir die Noord-Transvaalse  lewensreddingspan en sagtebalspanne vaar ook baie goed met verskeie spelers wat in hulle onderskeie ouderdomsgroepe gekies word vir die provinsiale spanne.  Die skool is ook nóú betrokke by die Hartbeespoortdam waterfees en die orkes, trompoppies en seuns- en dogtersdrilpelotons  neem deel saam met sewe vlotspanne.  Dit is egter ‘n droë jaar en in die skooljoernaal word daar aangeteken dat die tuine ten gronde gaan weens die watertekort. Weens die ligging van die skool bly die munisipale watertoevoer ‘n probleem.

Die leerlingtal styg in 1991 tot meer as 800 en die skool kry tien rekenaars vir die implementering van rekenaarwetenskap as vak. Later daardie jaar word die rekenaarsentrum van die skool gebruik om rekenaaropleiding aan te bied vir studente van die Brits Tegniese Kollege – ‘n reëling wat tot albei instansies se voordeel is.

Die revue wat die vorige jaar tydens die Kapityt-fees by die skool aangebied is, word gekies om op die Transvaalse Departement van Onderwys se musiekfees in Klerksdorp aangebied te word.

Op sportgebied wen Harties  die tweede agtereenvolgende jaar die interhoërswemgala, terwyl die groeiende belangstelling in netbal meebring dat nuwe netbalvelde aangelê word. ‘n Rugbykliniek wat vir die eerste keer by Hoërskool Hartbeespoort aangebied word, word deur nege skole bygewoon.  Intussen word daar begin met ‘n TV-reeks waarin die skool as lokaliteit gebruik word.  Die nuwe hoëmasligte wat intussen aangebring is, bied groter sekuriteit en omskep die toneel in ‘n sprokiesland wanneer dit saans aangeskakel word.

Die einde van die jaar kom 33 onderwysers van elders bymekaar by die skool wat as nasiensentrum vir die matriekeksamens gebruik word. In die skooljoernaal word gekla dat dit die skool se normale aktiwiteite ontwrig.

Met die nuwe skooljaar in 1992 is daar so baie aansoeke om koshuisakkommodasie dat baie voornemende kosgangers weggewys moet word. Die koshuise bied verblyf vir 86 seuns en 114 dogters.  Die skool het nou 826 leerlinge.  Agt skole neem daardie jaar deel aan die nou reeds bekende bergwedloop.

In Februarie 1992 word die skoolgemeenskap geruk deur die aankondiging van ‘n nuwe onderwysmodel wat vanaf 1 April sou geld – die sogenaamde Model C (semi-private staatsondersteunde) skole. Daar heers groot ontevredenheid en daar is sprake dat tot 4 000 onderwysers in die land hulle werk kan verloor.  Die stelsel sou meebring dat ouers, afhangende van hoeveel kinders hulle op skool het, tot R70 per maand per kind sou moes betaal. 31 onderwysers was ten gunste van die Model C skool en 13 ten gunste van ‘n staatskool.   In ‘n daaropvolgende stemming deur ouers stem hulle met ‘n oorweldigende meerderheid ten gunste van ‘n Model C-skool en word Hoërskool Hartbeespoort vanaf 1 April 1992 ‘n staatsondersteunde semi-private skool.   As gevolg daarvan word vier personeellede oortollig verklaar.  Die skoolgeld word vasgestel op R350 per kind vir die res van die jaar, maar ‘n hele paar, veral koshuisleerlinge, keer nie terug na die vakansie nie.  Die hoof skryf dit toe aan die feit dat ouers dit moeilik vind om sowel die verhoogde skoolgeld as die koshuisgeld te betaal.

In Augustus voltooi die manspersoneel die bou van die paviljoene by die netbalbaan teen ‘n koste van minder as die R6 000 wat daarvoor begroot is. Mnr Wentzel beskou dit as die grootste mylpaal wat bereik is sedert hy in 1990 hoof geword het.

Op die gebied van ekstra-kurrikulêre aktiwiteite bereik die skool in hierdie tyd ook twee eerstes:  Die skool bied die jaarlikse kadetkompetisie aan en vir die eerste keer is twee streke – die noordelike en westelike streke – gekombineer en ding 19 skole mee. Hartbeespoort se drilpeloton kom eerste, met Peet Swart as die beste drilsersant, die orkes is tweede en Hartbeespoort is die algehele wenner.  Minder as ‘n maand later bied die skool vir die eerste keer die trompoppie-kompetisie aan. 12 skole ding mee en Hartbeespoort verower die derde plek.

Nege spelers van Hartbeespoort word gekies vir die Noord-Transvaalse  sagtebalspanne nadat Hartbeespoort die gevreesde span van die Afrikaanse Hoër Seunskool in die eindrondte van die Noord-Transvaalse skolekampioenskap klop.  Ook die lewensredders van die skool blink uit op die Noord-Transvaalse  kampioenskap.  Die nuwe netbalbane word in gebruik geneem.

‘n Groot terugslag vir die skool is dat sy mikrobus (wat met die resepteboekgeld gekoop is)  gesteel word en die skool nou sonder ‘n enkele voertuig sit.

In 1993 ontvang die skool besoek van die 75-jarige mev Telmar Harley (geb Visagie) wat in 1936 ‘n leerling van die skool was toe dit nog die huishoudskool was. Sy deel haar herinneringe met die skoliere.

Dit is ook die jaar waarin die eerste rugbyspan in hulle  nuwe truie uitdraf en in die eerste wintersportbyeenkoms van die seisoen wen al die rugbyspanne hulle wedstryde teen die Hoërskool Driehoek. Later daardie jaar onderneem die eerste span ‘n toer na Kaapstad.

Martie van Zyl word aangewys as die beste akrobatiese danser in Noord-Transvaal.  Thomas Dreyer en Jurgens van Niekerk haal die Suid-Afrikaanse junior varswaterreddingspan wat in Barcelona aan die wêreldbeker-byeenkoms deelneem.  Paul de Jongh word gekies vir die Nuffield skolekrieket-oefengroep.

Aan die einde van daardie jaar behaal Jaco Venter ses onderskeidings in matriek.



Entry filed under: History.

Conquerer of the Magaliesberg Magaliesberg Kaleidoscope

2 Comments Add your own

  • 1. Werner Slabber  |  September 7, 2011 at 10:11 pm

    Werner Slabber Klas van 1982

    Reply
  • 2. Ingrid Meyer  |  July 9, 2014 at 7:57 am

    My ma, Ursula Böhmer was in die Huishoud Skool van 1952 en is op soek na haar vriendin van destyds Annetjie Venter. Kan julle dalk help?

    Reply

Leave a comment

Trackback this post  |  Subscribe to the comments via RSS Feed


Calendar

March 2011
M T W T F S S
 123456
78910111213
14151617181920
21222324252627
28293031  

Most Recent Posts